Excerpt for Skimme van Gister by Piet Schoombie, available in its entirety at Smashwords

Skimme van Gister


Gepubliseer deur Piet Schoombie by Smashwords


Kopiereg 2011 Piet Schoombie


Smashwords Uitgifte Lisensie Notas

Hierdie e-boek is vir jou persoonlike genot gelisensieer. Die e-boek mag dus nie aan ander persone verkoop of weggegee word nie. As jy hierdie boek met ’n ander persoon wil deel, koop dan asseblief ’n ekstra eksemplaar vir elke ontvanger daarvan. Indien jy hierdie boek lees, maar dit nie gekoop het nie, of dit was nie vir jou uitsluitlike gebruik gekoop nie, dan moet jy dit asseblief aan Smashwords.com terugbesorg en jou eie eksemplaar daarvan koop. Dankie, dat jy die harde werk van hierdie skrywer respekteer.


**************

Phantoms of Yesterday


Published by Piet Schoombie at Smashwords


Copyright 2011 Piet Schoombie


Smashwords Edition, License Notes

This ebook is licensed for your personal enjoyment only. This ebook may not be re-sold or given away to other people. If you would like to share this book with another person, please purchase an additional copy for each recipient. If you’re reading this book and did not purchase it, or it was not purchased for your use only, then please return to Smashwords.com and purchase your own copy. Thank you for respecting the hard work of this author


.***************

Inhoud

Hoofstuk een

Hoofstuk twee

Hoofstuk drie

Hoofstuk vier

Oor die skrywer

Hoofstuk een


Die ineenstorting van die Amerikaanse banke en ander finansiële instellings het ekonomieë internasionaal soos ’n skokgolf getref. Die gevolglike wêreldwye resessie het nywerhede en maatskappye se winste opgekerf en derduisende mense het hulle werk verloor. Ek was een van dié ongelukkiges! Dat ek saam met baie ander in dieselfde hartseer bootjie was, het weinig troos ingehou. Die positiewe sy was dat ek nog jonk, sterk en gesond was. ’n Verdere plus punt was dat my vrou, Elsa, as ’n vryskut vanaf die huis gewerk het. Gevolglik kon sy as grafiese tekenaar gewoonweg met haar verskillende kontrakte voortgaan. Sy skilder ook wanneer daar tussendeur ’n tydjie beskikbaar was. Derdens was ons jonk getroud met nog geen bykomende monde om te voed nie.

Om slegs op Elsa se inkomste aan die lewe te bly, het nogtans ’n fyn balanseertoertjie geverg. Daar is wesenlik op die huishoudelike begroting besnoei. Ons het haar ligte motortjie verkoop en slegs met my bakkie klaargekom. Gholf, fliek, teater en uiteet was net ’n vae herinnering uit ons dae van melk en heuning. Die huishulp en tuindienste se kontrakte is beëindig en hulle take is tussen ons twee verdeel. Ons het weer self in die kombuis gebak en gebrou en opnuut uitgevind dat ons vir baie goedkoper steeds lekker kon eet.

Ons ouers aan beide kante het wonderlike ondersteuning gebied en met baie simpatie en deernis gehelp waar hulle kon. Albei vaders moes egter ook maar spook en spartel om hulle eie betrekkings gedurende dié moeilike tye te behou. Dit was gevolglik soos manna uit die hemel toe ons uit ’n totaal onverwagte oord ’n meevallertjie kry. Van ons vriende se familie se buitelandse vriende het ’n huurhuis vir drie weke tydens die Wêreldbekersokkertoernooi gesoek. Hulle geldeenheid was baie sterker as die Suid Afrikaanse Rand en die huurgeld was gevolglik wonderlik rojaal. Skielik was ons weer sonder ’n bankoortrekking, maar ook sonder huisvesting! Dit was nogal ‘n skok om te besef dat ons vir ’n klompie weke letterlik op straat sou wees.

Dit was in hierdie tyd dat dit by my opgekom het om die werklose en huislose toestand te benut vir ’n safari na die binneland. Nie sommer enige safari nie, nee ’n soort pelgrimsreis om my wortels te gaan naspoor. Ek het lankal die drang gehad om op my voorvaders se voetspore te gaan stap. Elsa was by die eerste vermelding daarvan nie baie beïndruk nie. Die knellende gedagte om noodgedwonge vir vier weke onder die voete van ons ouers te wees, het egter die knoop deurgehaak. Nie een van ons twee het kans gesien om ander mense vir so lank te verontrief nie. Ek kon haar ook verseker dat sy oorgenoeg tyd sou hê om haar werkstukke steeds op die skootrekenaar te doen en per e-pos in te stuur. Sy sou boonop ook nog geleentheid kry om te skilder.

Dinge het vinnig begin gebeur, nadat ons besluit het om wel die pad te vat. Die bakkie is gediens, die kappie is opgeknap en so verander dat ons daarin kon slaap as dit nodig sou wees. Net die nodigste klere en toerusting is ingepak. Ons het die teerpad van die kus na die noorde met ’n lied in die hart aangedurf. Net om uit die stad weg te kom, was alreeds ’n groot bonus. Eers toe ons so deur veld en vlei en oor berg en dal ry, het ons besef hoe stresvol die voorafgaande tyd vir ons albei was. Ons het gelag en gesing en was uitgelate soos kinders wat vir die eerste keer met vakansie gaan!

Ons het kuier-kuier voortgery en in twee karavaanparke oorgeslaap op die lang pad na die noordelike binneland. My belangrikste reisgids na ons uiteindelike bestemming was my oupa-grootjie se biografie, wat deur my oupa geskryf is. Dié grootjie en sy pa was albei boere. Ek het gehoop om hierdie voorsate se spore op hulle toentertydse plaas op te tel en sodoende my eie wortels te vind en te ervaar. Wat dit presies was wat ek sou vind, het ek nie geweet nie. Ek was egter seker dat ek sou weet wanneer ek dit raakloop.

Op die dorpie naaste aan die plaas het ek navraag gedoen en aanwysings gevra. Daar was teleurstellende nuus. My grootjie se plaas het nie meer as ’n boerdery-eenheid bestaan nie. Dit was slegs ’n onderdeel van ’n baie groter wildreservaat, wat uit ’n aantal plase saamgestel is. Met die ontvolking van die platteland is dié eiendomme deur ’n konsortium sakemanne opgekoop. Hulle het dit omskep in ’n reservaat met ’n dertigtal wildsoorte wat oor duisende hektare weiveld versprei was. Groepe jagters van oorsee en vanuit die stede kom dan met die nodige jaglisensies daar bokke en ander wildsoorte skiet.

Die verskillende plase se ou opstalle word as kampe gebruik waar die jagters tuisgaan. My probleem was om te weet watter opstal dié van my oupagrootjie se plaas, Helderfontein, was. Ek het by die bestuurder van die reservaat vir hulp aangeklop. Hy kon my nie help nie, want die verskillende opstalle is as jag kampe met verskillende wild name aangedui en nie volgens die plase se geregistreerde name nie. Hy het my van ’n kaart van die reservaat voorsien en my sterkte toegewens. Ons het ook goedkeuring gekry om kosteloos in enige van die kampe tuis te gaan, aangesien daar vanweë die sokkertoernooi baie minder jag besprekings was. Dit was wonderlike nuus vir ’n egpaar met ’n skraps inkomste en sonder ’n eie dak vir die onmiddellike toekoms.

Ons het die reservaat se stowwerige grondpaaie met gretige afwagting aangedurf en van opstal tot opstal gery. Die uitgestrekte grasvelde met alleenstaande klipkoppies en berge op die horison, was asemrowend mooi. Elsa was haastig en opgewonde om dit op haar skilderdoeke vas te lê. Elke plaasopstal waarby ons ingedraai het, is beoordeel volgens die swart en wit foto's in my grootjie se biografie. Die eerste twee was definitief nie waarna ons gesoek het nie. Die son het reeds laag in die weste gesak toe ons die derde opstal bereik het. Ook dit het nie na die ware Jakob gelyk nie.

Ek was op die punt om teleurgesteld by die werf uit te ry, toe iets my aandag getrek het. Ongeveer ’n honderd meter Wes van die plaashuis was daar ’n klompie ou bouvallige buitegeboue. Die vervalle sandsteen gewel, met geroeste dubbele sink deure van ’n eertydse waenhuis, het ooreengestem met ’n foto in die biografie. Die hemelhoë bloekombome agter die woonhuis het ook skielik in plek geval. Ons het uiteindelik by my wortels uit die gryse verlede gearriveer!

Ek het die reservaatbestuurder se sleutels gebruik om toegang tot die huis te verkry. Daar was vier slaapkamers, ‘n sitkamer en ’n ten volle toegeruste kombuis, met onder meer ’n gasstoof en gas yskas. Weens die afwesigheid van elektriese krag was daar in elke vertrek ’n gaslamp. Die meubels was oud maar in goeie toestand. Uiteenlopende ontwerpe en fabrikate van stoele, tafels en beddens het daarop gedui dat dit oral oor opgekoop is om die huis vir die jagters in te rig. Die houtvloere was nog verbasend stewig en kraakvry, maar plek-plek het die afgetrapte planke getuig van baie voete wat oor meer as ’n honderd jaar daar geloop het.

Die bakkie is in groot haas afgelaai om nog voor donker die huis en werf verder te verken. Ek kon steeds nie verstaan dat ek nie die huis vanaf die ou foto's herken het nie. Buite in die skemer het ek wel die antwoord gevind. Teen die klipfondasie aan die suidekant van die huis was daar ’n datum van 1880 in sement syfers vasgelê. Dit het geklop met die datum in die biografie. By nadere ondersoek kon duidelik gesien word dat die oorspronklike oop stoep aan die noordekant van die plaashuis later jare met vensters toegebou is om as ’n son vertrek in die koue winters te dien. Dit was hierdie veranderde fasade wat gemaak het dat ek die plaashuis nie dadelik herken het nie

Toe ek weer in die kombuis terugkom, was Elsa reeds besig om by lamplig ’n ligte aandete voor te berei. Die donker het soos ’n lamferlap teen die vensterruite gelê en buite op die werf was dit grafstil. Nie eers ’n kriekie in die lang gras of’ ’n padda by die watervoor was hoorbaar nie. In die windlose winteraand was die natuur ontneem van alle naggeluide. Ek kon ‘n vreemde spanning en ongemak by Elsa aanvoel. Sy het kort-kort na die donker kombuisvensters sonder gordyne gekyk en het ook ’n paar keer gevoel of die buitedeur tog wel gesluit was.

Ek het haar ’n gerusstellende drukkie gegee en gehelp om die tafel te dek. Diep binne in was ekself egter ook kriewelrig en senuweeagtig. Ons albei het in die stad grootgeword en die gitswart donkerte op die werf en bonatuurlike nagstilte was vir ons vreemd en selfs vreesaanjaend! Ons was ook terdeë bewus daarvan dat daar in ’n radius van ongeveer tien kilometers geen mense gewoon het nie. Ons het verder vroeër die middag al agtergekom dat daar nie selfoonontvangs op die plaas was nie. Die wete van die landswye plaas rooftogte en moorde op boere het die onheil gedagtes by ons net verder aangeblaas!


Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-5 show above.)